Deeglike bestuur en nougesette seleksie in ’n klipharde omgewing het die veteraanboer mnr. Russell Clark verskeie eerbewyse laat wen, onder meer Teler van die Jaar in 2009. Sy diere se hoë speenpersentasie van meer as 90 getuig van sy kennis. Hy is juis bekroon danksy sy baie praktiese benadering om met sukkelvrye diere te teel.
Russell en sy seun, Ed, boer by Dordrecht in die Oos-Kaap met Herefords, Tuli’s, kommersiële beeste, Hereford- en Tuli-kruise, asook Merino’s. Ed sê hy kan nie vir ’n beter leermeester vra as sy pa nie. Naas die kroon as beste teler spog die Clarks se koeie met talle Elitekoei-toekennings. Ed bestuur die Tuli-kudde op Denwood en Russell die Herefords op Hartebeesthoek.
Albei plase is in die Dordrecht-omgewing, maar 67 km van mekaar af. SA Stamboek behartig die registrasie- en prestasiedata wat hulle in staat stel om teelwaardes te bereken.