Varke was eens ’n algemene gesig op Swartlandse plase, soos wat die bouvalle van ou varkhokke op talle sulke plase getuig. Maar waar dit op meeste plase tot niet gegaan het, het mnr. Franco Koch en sy pa, Danie, dit uitgebou tot ’n winsgewende boerderyvertakking.
Dié veelsydige pa-en-seun-paar van die Eenboom-boerdery se hoofinkomste is uit koring. Hulle plant ook kanola, hawer en gars vir voer, en daarbenewens bedryf hulle ’n kommersiële Dohne-Merino-skaapkudde en ’n Santa Gertrudis-stoetery, Kochbo Santas, wat al ’n paar skoukampioene opgelewer het.
Volgens Franco was die varkboerdery oor die jare ’n “kantlyn-projek”, maar so- wat ses jaar gelede het hulle besluit om dit uit te brei. Met die jongste tegnologie het hy dit toe omskep in “ ’n vyfsterhotel vir varke”.