
Me. Hermien Burke van die plaas Kleinbegin,
Griekwastad, wou Porsche 762-20-208 aanvanklik nie van die hand sit nie, maar
die koper, mnr. Fouché Blignaut van die Boerbok-stoetery Shongololo,
Groblersdal, was vasbeslote om dié tweejarige ram te koop. Porsche is vir
R850 000 verkoop.
Die ram, die grootkampioen op vanjaar se Noord-Kaapse kampioenskap op Griekwastad, kom uit ’n lang stamboom van kampioene uit die Lukas Burger-stoetery. Sy ma stam uit die Kyk Weer- en Kyk Net-teellyn en sy pa was Sixpack uit die Lexus-lyn.
Burke het soos die ander lede van die stoetery – haar pa en broer, Abraham, en me. Riekie de Witt – haar eie groep teelooie wat op die Burgers se plaas Rietfontein aangehou word. Die stoetery is bekend om sy rekordhoë pryse, soos die duurste Boerbok op ’n veiling toe Klein Booster in September 2021 R375 000 behaal het. Dié ram is deur De Witt geteel en die koper was mnr. Boeram Venter van die Oos-Kaap. Burger se wêreldkampioenram in 2021, Maserati, is in ’n private transaksie vir R500 000 aan mnre. Joubert Horn van Vryburg en Salmon van Huyssteen van Hartebeespoortdam verkoop, terwyl Van Huyssteen ook R600 000 vir die ram Mocha van De Witt opgedok het.
Porsche sal na verwagting vandeesweek aan sy nuwe eienaar besorg word nadat ’n gesondheidsertifikaat verkry is.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.