Inenting is sonder twyfel die beste voorsorgmaatreël om bloutong te voorkom, maar wanneer dit nie beskikbaar is nie, kan die boer die volgende doen om die impak van hierdie siekte te versag: Bly weg van ongeregistreerde “middels”, “entstowwe” en boererate. Verminder kontak tussen die muggies wat die bloutongvirus versprei en skaapkuddes.
Voorheen ingeënte diere is minder vatbaar as jong lammers wat spesiale aandag en versorging verg. Beeste word min of glad nie deur die virus aangetas nie, maar is meer aantreklik vir die muggie.
As beeste en skape saam wei, sal muggies geneig wees om die beeste te verkies. Onthou egter dat die virus in die beeste kan vermenigvuldig.