
Die kole sis nou behoorlik vir beesvleis ná die suksesvolle “Ultimate Beef Challenge” wat in September 2012 gehou is om Suid-Afrika se smaaklikste lendeskryf aan te wys.
Altesaam 14 beesrasse het aan dié uitdaging deelgeneem, wat deur Landbouweekblad in die bekroonde Local Grill-restaurant in Johannesburg geborg is. Elke ras glo mos dat die lendeskyf van sý ras die heerlikste in die land is, en elk het sý keurigste vleis ingeskryf vir die uitdaging.
Die vader van dié uitdaag-idee, die restaurateur mnr. Steve Maresch van Johannesburg, sê hy het op die welslae van die Beef-uitdaag probeer voortbou deur op net één beesras se vleis vir ’n maand lank in sy restaurant te fokus.
Dus, enige smulpaap wat Maresch se restaurant gedurende Maart in Parktown North besoek, sal in smullekker Drakensberger-vleis op die spyskaart vind. “Ons eet, drink en slaap beesvleis,” vertel Maresch opgewonde. Boonop gooi nóg kole op die vuur deur verbruikers wat sy restaurant besoek, van die gehalte van dié beesras se vleis te oortuig.
Goeie blootstelling aan die ras
Die Drakensberger-genootskap is genader om te help om dié bekende swartbees se keursnitte op die spyskaart van die Local Grill-restaurant in Parktown North te kry. Volgens mnr. Willie Landman, ’n raadslid van die genootskap, wat verantwoordelik vir rasbemarking is, het die “Ultimate Beef Challenge” ‘n steaklike nadraai vir die genootskap met die aanbied van die vleis in die restaurant.
‘n Boer van Standerton, mnr. Gert du Preez, verskaf die ganse Maart uitsoek-Drakensbergervleis aan die restaurant, wat dit in van die vleisgeregte, soos fillet en lendeskyf aanbied. Ander geregte, ook van Drakensberger-vleis, word op die spyskaart aangebied.
Dié innoverende bekendstelling was op 4 Maart, toe sowat 50 beesvleis-smulpape, belangstellendes en Drakensberger-telers in die Local Grill aangesit het vir ’n ete, waar Maresch die verwelkoming gedoen en sy boodskap oorgedra het van “veld tot vurk”. Dis gevolg deur verskeie geregte, soos kortrib.
Landman het ook die geleentheid gehad om 'n kort beskrywing van die beesras te gee.
In April gaan ’n ander beesras die geleentheid kry om sy keurvleis in dié restaurant aan te bied.