
Elkeen van hierdie aspekte verg aandag op verskeie gebiede. Vir goeie dieregesondheid moet sones onder meer beskerm word sodat bek-en-klouseer doeltreffend bekamp kan word. Kompartementering is nodig.
Marktoegang verg veral behoorlike identifisering en naspeurbaarheid, bemarking van Suid-Afrikaanse vleis as ’n handelsmerk en gesamentlike bedinging.
Vir inklusiewe groei moet kudde- en genetiese verbeterings en marktoegang in hoërisikogebiede plaasvind.
Mededinging behels rasverbetering, die volhoubare benutting van hulpbronne, steun om droogtes se uitwerking te verminder, en navorsing en ontwikkeling.
Hy het gesê Bfap verwag die produksie van beesvleis gaan sterk groei, danksy ’n kuddeboufase die afgelope jare na droogtes en dat dit vorentoe gemiddeld 1,5% per jaar gaan toeneem.
Die hoeveelhede geproduseerde vleis sal genoeg wees vir ’n toename van 5,5% in uitvoer. Voor 2014 is 88% van Suid-Afrika se beesvleis na Afrika-lande uitgevoer, maar die prentjie het daarna verander. In 2018 en 2019 was 40% van die uitvoer vir Afrika bestem, 33% vir die Midde-Ooste en 24% vir China. Weens bek-en-klouseer in Suid-Afrika het uitvoer na China weer gedaal. Uitvoer is dus gevoelig vir, en word aan bande gelê deur dieregesondheid.
Suid-Afrika se uitvoer is nogtans baie klein vergeleke met ander lande en maak net 0,3% van die internasionale uitvoer uit. Daar is dus baie sterk mededinging en Suid-Afrika sal ’n graderingstelsel moet toepas wat internasionaal erken word.
Plaaslike verbruik sal staties bly, maar nogtans ’n bykomende inkomste van R800 miljoen bedra.
Die departement van landbou beraam Suid-Afrika se beesgetalle op 12,87 miljoen waarvan 7,57 miljoen aan kommersiële boere behoort en 5,3 miljoen aan die informele sektor; dus 59% teenoor 41%.
30%-styging in beesproduksie
Met ’n daadwerklike poging tot ingryping van die bedryf en regering, soos deur die regering se meesterplan vir landbou en landbouverwerking (AAMP) voorgestel, reken Bfap beesvleisproduksie kan teen 2030 sowat 30% groter as tans wees. Uitvoer behoort dan op 20-24% van produksie te staan, wat R7,5 miljard aan bykomende inkomste kan beteken. Dit sal groter produktiwiteit verg in veral die kommunale gebiede, asook beter teelmateriaal en deurlopend vleis van ’n hoër gehalte.
Van der Burgh het verskillende scenario’s voorgehou wat in die toekoms kan gebeur. In een van die scenario’s waar die AAMP uitgevoer word en produksie oor die volgende tien jaar met 30% groei, asook met uitvoer wat vanaf 4% van produksie tot 20% groei, kan dit R2,50-R3,50 ekstra per kilogram op die speenkalfprys beteken. As die uitvoermark egter nie groei nie, kan die A2/A3-mark met tot R13-R17/kg verswak, met wesenlike ekonomiese gevolge vir alle produsente.