Namate verbruikers se eise toeneem, neem aansprake van vervaardigers en produsente ook toe. Dit kom egter teen ’n prys, waarvoor die verbruiker uiteindelik opdok.
Ingevolge die regulasies met betrekking tot die klassifikasie en merk van rooivleis vir verkoop in Suid-Afrika (regulasie 55 van 2015) mag geen gehaltemerk op ’n vleiskarkas of op die vleis daarvan sonder toestemming aangebring word nie.
’n Gehaltemerk word beskou as ’n aanduiding wat die verbruiker kan beïnvloed in die keuse wanneer die vleis gekoop word. Spesiale toestemming moet dus gegee word indien ’n persoon of instelling op karkasse en die vleis daarvan ’n gehaltemerk wil aanbring.