
Prof. Ferdi Meyer, hoofbestuurder van die BFAP, het gesê die beesvleisbedryf lewer tans sowat 700 000 ton vleis per jaar, maar dit behoort tot 900 000 ton in die volgende tien jaar te groei.
“Die uitvoer van rooivleis sal ook na verwagting skerp toeneem, veral na Jordanië, Koeweit, Viëtnam en die Verenigde Arabiese Emirate. Suid-Afrika moet egter sy siektebekamping regkry, anders kan die land hierdie markte, met ’n waarde van $140 miljoen (sowat R2,11 miljard) verloor. Dit is dus uiters belangrik dat ons ’n doeltreffende, holistiese veeartsenykundige stelsel vestig om ons uitvoer te beskerm.” Intussen lyk die plaaslike rooivleisbedryf veel beter nadat goeie reënval in die Oos-Kaap boere daar weer hoop gegee het.
“Vir die res van die landboubedryf is vanjaar ’n taai jaar. Daar is nog die naskokke van die droogte in die Wes-Kaap, wat veral die vrugtebedryf hard getref het, die listeriose-uitbreking en voëlgriep wat die hoenderbedryf swaar getref het. Daar is wel groei, maar nie so sterk soos voorheen nie. Die BFAP voorsien dat die landbou in die komende dekade steeds sal groei, maar dat die groeikoers wesenlik sal verstadig. Dit kan veral toegeskryf word aan ’n stadiger ekonomiese groeikoers en ’n wisselvallige wisselkoers,” het Meyer gesê.
Beleidsekerheid is nodig
Intussen het dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, op die kongres gesê die plaaslike landboubedryf is betreklik gesond en robuus met ’n oop, mededingende mark wat doeltreffendheid aanvuur en betreklik lae voedselpryse verseker. Tog is daar groot struikelblokke wat voor die sektor se deur lê, waaronder beleidsonsekerheid, waterskaarste, arbeidsverhoudinge en -wetgewing, grondhervorming, klimaatsverandering, handelsooreenkomste en volhoubare transformasie.
Purchase het gesê daar is verskeie geleenthede vir die landbou gegewe Suid-Afrika se groeiende bevolking, veranderende verbruikersneigings, nuwe markte (wat Afrika en die Ooste insluit), nuwe tegnologie en verhoogde produksie. “Die Suid-Afrikaanse landbousektor is ook besig om sy mededingendheid te verbeter deurdat ons besig is om nuwe markte te ontgin. Dit geld nie net die rooivleisbedryf nie, maar ook verwerkingsbedrywe.”
Purchase het gesê Agbiz het 24 uit 36 kommoditeite geïdentifiseer waarvan Suid-Afrika ’n netto uitvoerder is. “Die gunstige aspek is dat die vrugtebedryf, sowel as beesvleis, lamsvleis en wol, besig is om teen ’n uitstekende koers te groei.”
Dit moet egter ondersteun word deur verbeterde sakevertroue. “Dit is die goedkoopste vorm van ekonomiese stimulus. Wat weerstoestande betref, is ons tans in die beste posisie wat ons in baie jare was. Dit word egter deur beleidsonsekerheid ondermyn. Die enigste manier om die situasie om te draai, is om sekerheid te skep. Sodra dit gebeur, sal sakevertroue terugkeer, wat tot belegging, ekonomiese groei en uiteindelik werkskepping sal lei,” het Purchase gesê.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.