
’n Swart Angusbul en ’n Simmentalerkoei van mnr. Andrew Masterson van die Milagro-stoeterye naby Oesterbaai in die Oos-Kaap het op 2019 se Royalskou met die louere weggestap vir onderskeidelik die opperste kampioenbul en -koei op die Royalskou in Pietermaritzburg. Die drie eienaars van die Atka-stoetery tussen Calvinia en Williston, mnre. Roelie le Roux, Niekie Cilliers en dr. Corrie Avenant, het met twee Wit Dorpers die goue bekers vir die beste skaapram en -ooi gewen en hul Boerbokram en -ooi is ook aangewys as die opperste kampioen-Boerbokram en -ooi op die skou.
Mnr. Terry Strachan, uitvoerende hoof van die Royalskou, sê dit is die eerste keer in dié skou se bestaan van 169 jaar dat ’n teler met twee rasse albei goue bekers op die skou verower. Masterson boer egter nie net met vleisbeeste nie. Hy het in 2006 die Royalskou se goue beker vir die beste melkkoei met een van sy Holsteinkoeie gewen.
“Die Royalskou se interraskompetisie is een van die moeilikste kompetisies op die kalender en om die goue beker hier te wen is ’n gesogte prestasie,” sê Masterson. Hy beoog om weer volgende jaar op die Royal te skou, mits hy logistieke reëlings kan inpas. “Ons het 1 310 km gery om hier te wees en moet weer net soveel ry om terug by die huis te kom.”
Vanjaar was die tweede keer dat die Atka-stoetery op die Royalskou was. In 2017 het dit nie baie goed met hulle gegaan nie, sê Avenant. “Dit is vir ons werklik ’n prestasie en ’n bevestiging dat ons nie net mooi diere teel nie, maar ook goeie diere. Dit is die eerste keer in 12 jaar dat ’n enkele teler die beste skaapram en -ooi op die Royalskou teel, die eerste keer in die Royalskou se geskiedenis dat Dorpers die meeste punte in die interraskompetisie behaal, die eerste keer in 23 jaar dat ’n Dorperram die goue beker wen en die eerste keer in die skou se geskiedenis dat ’n teler albei goue bekers in die skaap- én die bokafdeling verower.”
Avenant is vol lof vir die Royalskou en sê Atka is sonder twyfel in 2020 weer op die skou. “Dit is ’n heerlike skou en dit word uiters professioneel gereël. (Me.) Emmie Barnard (sekretaresse van die skaapafdeling) is ’n ystervrou en het verseker die beste skaapskou gereël waarby ek nóg was.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.