
Mnr. Koos Vosloo, Stamboek se voorsitter, het gesê die vereniging se strategiese pad vorentoe sal voortaan nou gekoppel moet wees aan sakebeginsels. “Tradisioneel is ons bekend as ’n vereniging sonder winsbejag. Deur voort te gaan om dinge op dieselfde manier te bly doen, het tot gevolg dat die we^reld verbybeweeg.”
Hy het in sy voorsittersrede op die vereniging se jaarvergadering in Bloemfontein gesê Stamboek se verlede toon dat sy lede nie net wil bybly nie, maar eerder die pas as katalis aangee wat die spil vorm vir innoverende telers wat tegnologie omarm.
Die volgende 12 maande bied die geleentheid om Stamboek en sy bedrywighede deur sy filiaal Stemma Animalia op ’n nuwe vlak te plaas en steeds 'n beter diens te lewer sonder noemenswaardig verhoogde insette.
“Die verandering moet nie bloot modegier wees nie, maar tot voordeel van die vereniging se lede.”
Hy het gesê dit is noodsaaklik dat die hele bedryf normale sake moet kan doen. “Ongelukkig neem die tempo van verval van openbare dienste steeds toe. Dit plaas toenemende druk op produsente om self die bul by die horings te pak omdat staatsinstellings nie meer in staat is om hul mandaat uit te voer nie.”
Die optimalisering van Stamboek se databasis bly een van die voorkeurmikpunte. Intydse volgehoue duplisering en rugsteun is ’n belangrike deel hiervan. Die gevaar van volgehoue beurtkrag wat ook gepaard gaan met onstabiele kragtoevoer kry toenemend aandag. ’n Bykomende stelsel, wat slegs toegespits is op die stabiliteit en volgehoue kragtoevoer aan die rekenaar-bedieners, is gedurende September 2022 in werking gestel.
Staatstelsels
Die innovering en vermoë van produsente om hul stelsels in die huidige tydvak met sy vele probleme, onafhanklik van die verkrummelende staatstelsels, te laat slaag, is die landbou se grootste bate.
Prof. Theo Venter, verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, het gesê Suid-Afrika het verskeie krisisse in sy geskiedenis beleef, maar die land was altyd in staat om dié probleme te bowe te kom.
Hy het op die jaarvergadering gesê een van die heersende krisisse is die ekonomiese struikelblokke wat in 2022 as 'n uitgerekte ekonomiese laagtepunt voortduur. Dié krisis manifesteer hom as ’n werkloosheids- en bestaanskrisis vir mense op voetsoolvlak.
“ ‘n Staat van verval kenmerk die nasionale regering, asook die gebrek aan openbare infrastruktuur.” Hy het gesê die landbou-dilemma ten opsigte van energie-, water- en voedselsekerheid word vererger deur onder meer die uitwerking van die swak regeringsbeleid en politieke mislukking.
Venter het die veebedryf uitgesonder as uiters belangrik vir voedselsekerheid om ’n voortgesette produksie te verseker. “Ek sou kommersiële produsente aanmoedig om na die informele veebedryf uit te reik om die meer as 40% van die nasionale vleisbeeskudde te help veredel.”