Die Nooitgedachter-perderas vier vanjaar sy 70ste bestaansjaar. Dié perde is bekend om hul temperament en veelsydigheid, en toon hul staal op skoue, in uithouritte, vir plaaswerk en plesierritte.
Die ras het sy oorsprong in die 1940’s toe ’n voorstel vir ’n Basoetoe-ponieprojek gemaak is. Die naam spruit van die Nooitgedacht-proefplaas by Ermelo waar die ras ontwikkel is.
Omdat die genepoel so klein was en een rasegte Arabier-hings en een Arabier-Boerperd-kruishings gebruik moes word om dit aan te vul, het die mense wat by die projek betrokke was, gereken dit is misleidend om die perde Basoetoe-ponies te noem.