
Hoewel die natter toestande in die Noord-Kaap en Vrystaat gunstige toestande vir ’n slenkdalkoorsuitbreking skep, kan ’n uitbreking voorkom word as boere hulle kleinvee ent.
Dr. George de Kock, ’n veearts en voorsitter van Cape Wools Suid-Afrika, is daar twee faktore nodig vir ’n slenkdalkoorsuitbreking. Een is ’n groot muskietbevolking, wat dien as vektorpopulasie, en die tweede is ’n groot genoeg vatbare gasheerpopulasie, soos skape of beeste, wat dien as die virusvermenigvuldigers.
“Die enigste praktiese manier om hierdie vermenigvuldigende spiraal in ’n vatbare skaapbevolking voorkom, is deur inenting,” maan De Kock.
“Indien die skaap- en beeskuddes in die semi-endemiese gebiede (waar die Aedes-draermuskiete voorkom) in die Vrystaat en Noord-Kaap voldoende immuniteit het weens doeltreffende inenting, sal die potensiaal van die virus om via die gashere onder die muskietbevolking te versprei, sodanig verminder dat grootskaalse uitbrekings selfs iets van die verlede sal wees.”
Hy rig dus ’n ernstige waarskuwing aan boere in die Vrystaat, noordoostelike dele van die Noord-Kaap en noorde van die Oos-Kaap om hul kleinvee in te ent.
Mnr. Deon Saayman, bestuurder van Cape Wools, waarsku dat China, Suid-Afrika se grootste handelsvennoot van wol, baie spesifieke inperkings instel wanneer slenkdalkoors uitbreek. Dit sluit ’n onthoudingsperiode in voor die wol uitgevoer mag word.
“Waar daar ’n uitbreking in ’n distrik is, sal dit ’n groot impak hê op die wol wat van daar kom. Boere moet dit in ag neem en onthou dat indien hulle nie ent nie, en hulle het ’n uitbreking, het dit ’n effek op die hele distrik.”
Vektore
Met die regte grondtipe, plantegroei en panne wat geskik is vir die oorlewing van die virus in die Aedes-muskieteiers, is die kans goed vir die virus om eerste in die Noord-Kaap en Vrystaat uit te breek, toon navorsing wat twee jaar gelede deur Eco Health Alliance, ’n internasionale organisasie vir omgewingsgesondheid, in die Vrystaat uitgevoer is.
“Ná ’n aanvanklike uitbreking sal ander opportunistiese muskietspesies die siekte direk van besmette na vatbare diere versprei om sodoende ’n massiewe uitbreking te bewerkstelling, wat na omliggende areas in die Wes-Kaap kan versprei indien die klimaat gunstig is,” verduidelik De Kock.
Die kans is goed dat die Aedes-muskietbevolking reeds ná opeenvolgende nat somers in dele van die Vrystaat en Noord-Kaap kon toeneem.
Omdat die slenkdalkoorsvirus in dié muskiet se eiers kan oorleef, is die muskiete reeds besmet met die virus wanneer hulle uitbroei.
Indien ’n besmette muskiet ’n vatbare skaap besmet, dien die skaap as bron van die virus na honderde ander Aedes-wyfiemuskiete om sodoende die virus na die muskiete se nageslag oor te dra. Ander skape kan ook deur middel van ander besmette muskiete aansteek. So word ’n virusbevolking in stand gehou en vergroot en die aantal Aedes-draermuskiete neem genoegsaam toe om ’n uitbreking te bewerkstellig. Dit vind gewoonlik ná ’n paar agtereenvolgende nat jare plaas, en staan volgens De Kock bekend as die vermenigvuldigingseffek.
Entstof doeltreffend
De Kock sê Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) se entstof kan vertrou word en daar is genoeg beskikbaar. Die produksie is volgens OBP nie tans ’n probleem is nie. Boere moet egter daarop let dat hulle korrek inent.
Die navorsers het bevind die Smithburn-entstof wat deur OBP vervaardig word, is doeltreffend mits die regte prosedures gevolg is.
“Navorsing het getoon dat die entstof nie doeltreffend is wanneer die koueketting daarvan verbreek is, of indien dit te lank nadat dit aangemaak is gebruik is nie,” verduidelik De Kock.
Die entstof moet dus te alle tye, hetsy tydens vervoer of opberging, tussen 4 °C en 10 °C gehou word. Aangesien die entstof binne 24 uur afbreek, moet dit ook net voor gebruik aangemaak word.