
Die heersende weerstoestande kan lei tot ’n uitbreking van slenkdalkoors in die sentrale dele van die land. Só ’n uitbreking kan voorkom word deur kleinvee betyds in te ent.
Dr. George de Kock, ’n veearts en voorsitter van Cape Wools Suid-Afrika, rig ’n ernstige waarskuwing tot boere in die Vrystaat, noordoostelike dele van die Noord-Kaap en die noorde van die Oos-Kaap om hul kleinvee in te ent, veral ná die goeie reën dié somer.
Sy raad aan boere is om seker te maak dat hulle die entstof reg hanteer en dat die koueketting van die entstof te alle tye by yskastemperatuur van tussen 4 °C en 10 °C gehou word, hetsy tydens vervoer of opberging. Aangesien die entstof binne 24 uur afbreek, moet dit ook net voor gebruik aangemaak word.
Ent só in
De Kock se aanbeveling is dat alle nie-dragtige ooie in die bogenoemde areas ingeënt moet wees. Ooie wat nog nie voorheen ingeënt is nie, moet twee maal ingeënt word vir omvattende beskerming.
Ooilammers moet met speen die eerste keer met lewende entstof ingeënt word, wat opgevolg moet word met nog ’n enting met die lewende entstof twee maande later.
Volgens De Kock behoort skape dan lewenslank beskerming teen slenkdalkoors te geniet, maar ’n skraagdosis later in die ooi se lewe kan haar immuniteit verbeter en beter beskerming bied, veral tydens ’n uitbreking.
“Dit is belangrik om nie die lewende slenkdalkoorsentstof saam met bloutong- of ander lewende entstowwe toe te dien nie.”
Hy sê ooie kan die skraagdosis kry wanneer lammers ingebring word vir hul eerste hantering, soos byvoorbeeld wanneer stertjies afgesit word.
Volgens sy berekening kos een inenting ongeveer R9,09, of R18,18 per skaap volgens die prys wat hy vir die entstof betaal het by sy plaaslike koöperasie op Caledon in die Wes-Kaap. Indien ’n skraagdosis toegedien word sal dit R27,27 per skaap kos.
“Indien ’n ooi sewe jaar oud word, is die koste per ooi dus minder as R4 per jaar. Teen die huidige vleis- en wolpryse is dit ’n minimale belegging wat ’n reusedividend lewer.”
Boere wat hul ooie voorheen eenmalig teen slenkdalkoors ingeënt het, word aangeraai om ’n skraagdosis toe te dien.
“Dit is egter belangrik om te onthou dat die lewende entstof verkieslik nie aan dragtige ooie gegee moet word nie. Ramme moet ook nie minder as ses weke voor paring met die entstof ingeënt word nie.”
Omdat daar tans ’n kans is dat die sirkulerende virus reeds in sekere skape teenwoordig sal wees, moet boere, soos tydens ’n uitbreking, slegs een naald per inenting per skaap gebruik, om die verspreiding van die virus te voorkom.
“Dit klink na beslommernis, maar met ’n gasstofie, ’n ekstra paar hande en twee of meer spuite is dit haalbaar.”