Vertel meer van jou boerderyfilosofie?
Ek volg ’n benadering van herlewingslandbou, waar ek pluimvee gebruik om die grond te verryk en meer produktiewe weiding te verbou. Die belangrikste beginsel hiervan is om die diere in hoë digthede aan te hou, maar hulle heeltyd oor die grond te laat beweeg. Dit versteur die veld, waarna dit toegelaat word om te rus – amper soos in die Serengeti waar hordes wildebeeste en sebras op sekere tye van die jaar oor die graslande beweeg. Ek streef daarna om ’n produk van beter gehalte te produseer sonder om groeihormone en antibiotika te gebruik. Wanneer die hoenders 14 dae oud is, skuif ek hulle na die weiveld, waar hulle in mobiele hokke met oop vloere bly. Die hokke word net ná sonsopkoms en weer voor sonsondergang na vars weidings geskuif. Só het die hoenders toegang tot ’n diverse verskeidenheid insekte, groenigheid en gruis.
Wat is die voordele van dié boerderymetodes?