
Só het dr. Pieter Vervoort, uitvoerende hoof van die nasionale dieregesondheidsforum, op die 90ste jaarlikse kongres van die Nasionale Wolkwekersvereniging in Port Elizabeth gesê.
Volgens Vervoort word siektes by skape versprei deur siek of draerdiere, deur die weerstandigheid van patogene te verhoog, die onbeheerde vervoer van diere, of wanneer geen dieregesondheidsertifikate of geen bewyse van siektes van die plaas waarvan die diere kom beskikbaar is nie.
Daarby kan diere van een stoetplaas na 50 ander plase versprei word, “of wat van diere van 50 plase wat saam op ’n veiling is en daarna siektes kan versprei na 500 ander plase.”
Hy voeg by dat verspreiding verder vererger wanneer die skuldiges nie aan die man gebring word nie of wanneer niks aan die situasie gedoen word nie. “Ons is baie goed om siektes te versprei, maar deur die teenoorgestelde as die bogenoemde te doen, sal goeie resultate oplewer om verspreiding te keer.”
Beskerm wol
Volgens Vervoort is wol ’n produk wat beskerm moet word. “Julle het ’n fantastiese produk, dit is bioafbreekbaar en dit is wat die millenniërs soek. Die ouer geslag is dalk nog bereid om nylon of poliëster te dra, maar nie die millenniërs nie.”
Hy voeg by dat boere die produk het waarna die jonger generasies soek, maar dat dit op ’n manier aangebied moet word wat die generasie vereis.
Vervoort het die bedryf aangemoedig om meer geld toe te ken vir die finansiering van navorsing oor biosekerheid en om die uitbreking van siektes te voorkom; dit wil sê om risikobestuur toe te pas. Hy sê die wolbedryf moet met dierebedrywe reg oor die land saamspan om biosekerheid in Suid-Afrika te verbeter. Volgens Vervoort het minder as 10 kliniese gevalle van bek-en-klouseer ’n groot uitwerking op die bedryf gehad. Dit sal die land honderde miljoene rande kos.
“Dit is nie die eerste keer nie, en ek huiwer om te sê dit is ook nie die laaste keer nie. Ons is nie op ’n volhoubare pad nie en ons sal nie meer kan handel dryf as die situasie nie aangepak word nie.”
Hy voeg by dat bek-en-klouseer nie sommer deur wol versprei kan word nie, maar as kopers daardie indruk het, sal die bedryf daarmee moet saamleef en deur middel van biosekerheid vertroue by handelsvennote skep.
Volgens Vervoort beskerm biosekerheid nie net boere se kuddes teen siektes nie, maar ook hul finansiële gesondheid.
Hy voeg by dat dit byna onvoorkombaar is dat siektes soos bek-en-klouseer in Suid-Afrika gaan uitbreek, maar dat almal in die bedryf moet saamwerk om toe te sien dat dit nie buite die beheergebied uitbreek nie sodat dit nie ernstige ongunstige gevolge vir die bedryf het nie.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.