Weens stygende produksiekoste kan geen boer onnodige verliese bekostig nie. Daarom het mnr. Jan van Biljon (71), vee-en-saaiboer van Viljoenskroon, slim planne beraam om twee- én vierbeenjakkalse van sy kosbare besittings weg te hou.
Veral jakkalse en rooikatte maai onder kleinvee en val selfs kalwers aan, terwyl veediefstal tydens die Covid-19-pandemie in menige distrik toegeneem het. Daarom het hy sy fokus die afgelope tyd verskerp en is dankbaar vir sy uiteenlopende planne om verliese te beperk. Hy gebruik halsbande met ’n elektroniese apparaat om skape se nek wat deur ’n selfoon alarm maak as die skape onnatuurlik optree, soos om snags te hardloop.
Hy kombineer dit met ’n Anatoliese herdershond by elke trop skape om jakkalse en ander roofdiere weg te hou en selfs dood te maak. Elke skaaptrop het ook ’n Spaanse donkie, ’n groot vaaltyn wat baie intimiderend lyk en veral veediewe afskrik. Volstruise, wat vrees by enige mens inboesem wat dit waag om ’n voet op ’n plaas te sit, voltooi Van Biljon se plaasbeveiliging.