
Wolpryse het op die 13de veiling van die seisoen met 1,2% tot R161,43/kg vir nie-RWS-wol en 0,42% tot R165,08/kg vir RWS-wol toegeneem. Die prystoename is ondanks ’n aansienlik sterker rand teenoor die Amerikaanse dollar. Die toename is gesien oor al die mikrongroepe, met ’n gemiddelde toename van 8,8% vir die 18,5-mikrongroep en 6% vir die 19-mikrongroep.
Luidens die Cape Wools-verslag was daar goeie mededinging tussen die kopershuise, met 94% van die aanbieding wat verkoop is, ondanks ’n groter aanbod van 10 777 bale.
Nagenoeg 60% van die aanbod het uit lang fynwol bestaan, met 48% van die veilingsaanbod wat uit volhoubaar geproduseerde wol bestaan het.
In Australië het markte met 2% toegeneem sedert die vorige veiling, maar die mark was onveranderd in dollarwaarde.
Volgens die Australian Wool Innovation (AWI) se jongste markverslag is koopkrag vanuit China steeds onder druk, aangesien die land se streng zero-covid-beleide daartoe lei dat die land se fabrieke nie wol normaal kan aankoop nie. Volgens die AWI koop die topdrie Chinese kambolmakers die afgelope drie weke aansienlik minder wol.
Die land se meulenaars vervaardig hoofsaaklik vir hul eie mark, met verkope in die kleinhandelmark wat tans ongeveer die helfte van hulle normale verkope behaal. Nagenoeg 400 miljoen Chinese inwoners word deur die streng inperkings geraak, wat veral hul vermoë raak om hoërwaardekledingstukke te kan aankoop.
Die volgende veiling sal op 30 November aangebied word met ’n aansienlike aanbod van 15 356 bale.
Sybokhaarmark
Sybokhaarpryse reg oor al die kategorieë het op die voorlaaste veiling vir die winterseisoen toegeneem. Altesaam 96 935 kg is aangebied, waarvan 90% verkoop is.
“Al het die rand sterker vertoon teenoor die vorige veiling, het bokhaarkopershuise aktief meegeding vir die kleiner hoeveelheid haar op vandag se veiling,” dui Sybokhaar Suid-Afrika se verslag aan.
Die gemiddelde markaanwyser het sedert die vorige veiling met 5% toegeneem tot R338,52/kg, ondanks die rand se versterking teenoor die dollar. Die aanwyser het met 4% toegeneem vir kleinbokkiehaar, 6% vir jong bokke, 2% vir fyn groot bokke en 3% vir sterk grootbokhaar. Van die topskeersels in die bedryf is tydens die veiling aangebied. Nagenoeg 86% van die aanbieding was volhoubaar gesertifiseerde haar.
’n Seisoensrekordprys van R820/kg is betaal vir ’n baal kleinbokkiehaar van mnre. Gert en Pieter Jordaan van Aberdeen. Die baal, met House of Fibre as makelaar, het bestaan uit ’n superstyl, B-lengte, 25 mikron haar, met ’n skoonopbrengs van 88,5% en is verkoop aan ’n Italiaanse koper.
Die laaste sybokhaarveiling vir die seisoen sal op 6 Desember aangebied word.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.