
’n Mark wat deur handelaars en agente beheer word, soos algemeen in Kenia voorkom, moet in Suid-Afrika vermy word namate marktoegang vir kleinboere verbeter. Dít is een van die bevindinge van ’n vergelykende studie oor die probleme wat boere in die gesig staar in twee provinsies in Suid-Afrika en Kenia waar met beeste geboer word.
Die studie, onder leiding van prof. Cyril Nhlanhla Mbatha, direkteur van die instituut van maatskaplike en ekonomiese navorsing aan die Rhodes-universiteit, identifiseer swak produksiemetodes en beperkte marktoegang as belangrike faktore wat voorkom dat kleinboere in albei lande verder ontwikkel.
Daar is bevind dat beperkte inligting, swak infrastruktuur en kulturele kwessies tot lae deelname deur die boere op veemarkte kan lei.
Mbatha sê meer Suid-Afrikaanse boere in landelike gebiede word uitgesluit van verskillende dele van die formele beesmarkte se waardeketting vergeleke met Kenia. Al besit hulle groot beeskuddes, bly hul bydrae tot die land se beesvoorraad marginaal.
“Landelike Suid-Afrikaanse kleinboere word oor die algemeen in die gesig gestaar deur produksie- en bemarkingsprobleme wat hulle verhinder om tot suksesvolle kommersiële boere te ontwikkel,” sê Mbatha.
“Wat sakebedrywighede betref, het Suid-Afrikaanse kommunale boere ’n tekort aan baie van die nodige elemente wat voorsiening maak vir innoverende, mededingende markte. Baie Suid-Afrikaanse kleinboere dryf steeds handel volgens tradisionele stelsels.”
Volgens Mbatha is nog ’n probleem om handel te verbeter die feit dat daar meer boere met klein kuddes is pleks van minder boere met groter kuddes. “Namate die kapasiteit van kommunale weiding meer beperk word, kan konflik tussen vee-eienaars ontstaan weens kwessies oor grondbestuur. Dit het ’n direkte, ongunstige impak op die hoeveelheid vee wat per hektaar grond grootgemaak kan word. Dit het ook ’n impak op markte aangesien kopers dan vir ’n gehalteproduk moet soek.”
Mbatha sê die vervoerkoste na en van markte kan kleinboere dwing om formele markte te vermy. Dit laat hulle met beperkte vooruitsigte.
Hy sê hoewel soortgelyke probleme landelike kleinboere in Kenia en Suid-Afrika in die gesig staar, is Keniaanse boere meer betrokke op formele markte. Hul tekort aan hulpbronne, onder meer infrastruktuur om diere na markte te vervoer, het gelei tot die opkoms van magtige handelaars wat markte beheer ten koste van boere met ’n tekort aan hulpbronne. Die beeswaardekettings in Kenia word oorheers deur agente, handelaars en slagters.
Hoewel markoorheersing deur agente meer algemeen in Kenia is, is klein beesboere in Kenia welvarender as hul eweknieë in Suid-Afrika. “In Suid-Afrika, waar groot verskaffers die mark oorheers, word kleinboere bykans heeltemal uit die bemarking van rooivleis uitgesluit.
“Namate die markte vir kleinboere ontwikkel, kan verwag word dat agente sal opduik waar winste gemaak kan word en markkwessies soortgelyk aan dié in Kenia kan ontwikkel, waar markkragte en pryse teen produsente is.”
Mbatha beveel aan dat strategieë ontwikkel moet word om die potensiële oorheersing van markte deur handelaars ten koste van boere te voorkom.
Die studie het ook ’n gevallestudie van die ontwikkeling van klein Afrika-boere geïdentifiseer wat oral in Suid-Afrika gedupliseer kan word. Die Meat Naturally-inisiatief (MNI) in die Oos-Kaap pas ’n holistiese, omgewingsvriendelike benadering tot landelike ontwikkeling toe waardeur verskeie van veeboere se probleme in albei lande verminder of vermy word.
Die projek organiseer veeveilingsmarkte vir landelike boere om boere aan te moedig om deel te neem aan pogings om die omgewing te beskerm. Belanghebbendes werk saam met tradisionele leiers om gemeenskapslede te mobiliseer om hul ekologiese kapitaal te herstel en beskerm.
Die model beloon gemeenskapslede met ekonomiese aansporings gemik op die vermindering van armoede en verbetering van lewensbestaan.
Hoewel die MNI-model volgens Mbatha volhoubaar kan wees, vind slegs ’n klein hoeveelheid boere tans daarby baat. Hy meen dat baie aspekte van die projek en sy benadering tot ontwikkeling verbeter moet word om meer Suid-Afrikaanse kleinboere in landelike gebiede te baat.