
“Die MPO-opleidingsinstituut, in vennootskap met die Hoërskool Nico Malan in Humansdorp, het onlangs ’n projek begin wat ’n deurbraak is vir suiwelopleiding aan skoliere,” sê me. Corlia Oberholzer, opleidingsbestuurder van die instituut.
Leerders van graad 9 tot graad 12 kan nou ’n bykomende suiweltoesighouer-kwalifikasie by die skool verwerf teen die tyd dat hulle skool verlaat. Dit is die eerste skool in die land waar die projek aangepak word. Vyf seuns en vier meisies het reeds met hul opleiding begin.
“Hierdie projek gee ons die geleentheid om die jeug betrokke te kry in die suiwelbedryf en om sodoende ’n volhoubare toekoms te verseker. Die versoek het van die skool se kant af gekom nadat hulle agtergekom het daar is ’n leemte in die gemeenskap omdat daar soveel melkboere in die Tsitsikamma is, maar min landbouskole wat op suiwel konsentreer.
“Dit is ontsettend belangrik vir die MPO-opleidingsinstituut om ’n verskil te maak in die suiwelbedryf. Ons is ’n filiaal van die Melkprodusente-organisasie (MPO), ’n organisasie sonder winsoogmerk wat deur die boere vir die boere gestig is.”
Volgens Oberholzer is die kwalifikasie deur die MPO ontwikkel danksy statutêre finansiering, en is dit geregistreer by die gehalteraad vir handel en beroepe (QCTO). Die kwalifikasie bestaan uit agt modules wat ’n reeks onderwerpe in die suiwelbedryf dek soos die grootmaak van kalwers, dieregesondheidsorg, voeding, reproduksie, melkwinning, leierskap, asook die praktykkode vir melkproduksie soos opgestel deur die suiwelstandaardagentskap (DSA).
“Dit is ’n gedeeltelike kwalifikasie van die suiwelplaasbestuurder-opleiding wat uit 13 modules bestaan. Leerders word aangemoedig om die oorblywende vyf modules ná skool te voltooi.”
Drie komponente per module
Elke module vereis van die skoliere om drie komponente te voltooi. In die kenniskomponent word teorie gedek, in ’n praktiese komponent moet leerders demonstreer hoe om ’n spesifieke taak uit te voer en laastens is daar ’n werkservaringskomponent waar leerders spesifieke take op ’n melkplaas moet uitvoer onder toesig van ’n MPO-geakkrediteerde boer of bestuurder wat dit afteken.
Die boere moet vooraf registreer by die MPO-opleidingsinstituut om te verseker dat die nodige geriewe beskikbaar is op die plaas en dat die boerdery voldoen aan die kriteria waarvolgens die leerders aan al die dissiplines van ’n melkplaas blootgestel word.
Vyf melkboere in die gemeenskap het ingestem om die skoliere by te staan.
Volgens me. Elani Foord, ma van een van die leerders wat vir die kursus ingeskryf is, maak die projek ’n groot verskil. Haar dogter wil in die landbou werk, maar geen landbouskole in die omgewing aanvaar meisies nie.
Sy noem die geleentheid ’n deur wat net betyds oopgegaan het toe haar moed min begin raak het vir studiekeuses vir haar kind.
Die instituut beoog om soortgelyke geleenthede aan ander skole en areas te bied sodra die projek behoorlik op dreef is.
“Die doelwit is om die skoliere op te hef en terselfdertyd die suiwelbedryf se vaardighede in die arbeidsmag te bevorder,” sê Oberholzer.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.