Oor die jare heen het aandag aan detail seker die grootste verskil aan sy boerdery gemaak, sê mnr. James Stephen (67), voorheen sakeman en nou heeltydse boer. Sy Sussex-kudde se tussenkalfperiode (TKP) van 390 dae getuig daarvan. James boer sedert 2009, nadat hy sy groentesaadmaatskappy Ferax Saad verkoop het.
Toe het hy die plaas Graskop tussen Warden en Vrede gekoop om met Sussex-beeste te boer en geharde veldbulle te teel. Hy het die Sussex-Elitekoei, GA 07/103, in 2011 met haar pasgebore, tweede kalf by die destydse Mampudi Sussex-stoetery van Marquard gekoop. Daarna het sy nóg ses kalwers grootgemaak en is reeds weer met haar negende kalf dragtig. Ses van haar agt kalwers was verse, waarvan vyf in sy stoetery opgeneem is.
Wat James die meeste van haar beïndruk, is die feit dat haar nageslag meer as net goed genoeg vir stoetteling is. Hulle het intussen gewys hulle teel nét so goed soos hul ma en het reeds ’n paar veilingsbulle gelewer.