Agter hierdie eerbewys lê die verhaal van Nel se passie vir die stoetbedryf en vir die Drakensberger-beesras.
Toe die plaastelefoon een middag in 1979 die kenmerkende twee langes vir Helderfontein lui, het die oproep goeie nuus vir mnr. Carel Nel, toe ’n jong Vrystaatse boer van die distrik Brandfort, en sy vrou, Anita, gebring.
Diere van ’n top-bloedlyn was beskikbaar om te koop. Hulle het toe reeds vir drie jaar lank met die inheemse Drakensberger geboer en wou graag ’n stoetery op die been bring. Dié blinkswart beeste was destyds nog skaars in die sentrale dele van die Vrystaat en om goeie teelmateriaal te kry, was nie ’n maklike taak nie.