
Toestande is gunstig vir ’n uitbreking van slenkdalkoors en boere word gemaan om waaksaam vir hierdie en ander veesiektes te wees wat weens baie reën ’n gevaar vir boere inhou.
Dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), wat maandeliks ’n verslag saamstel van veesiektes wat by veeartse aangemeld word, sê panne, damme en vleie is oral tot boordens toe vol. Dit skep omgewingstoestande wat gunstig vir die uitbroei van muggies en muskiete, wat virussiektes soos slenkdalkoors, bloutong, Wesselsbron-siekte, Afrika-perdesiekte, drie-dae-stywesiekte en Wesnyl-koors veroorsaak. Veeartse het reeds uitbrekings van sommige van hierdie siektes by hom aangemeld Klik hier vir die tabel van dié siektes.
Prof. Peter Thompson, ’n epidemioloog, beaam dat toestande reg is vir slenkdalkoors. In ’n ondersoek in 2015-’16 in die Wes-Vrystaat, sowat vyf jaar ná die vorige groot uitbreking van die siekte, is die voorkoms van sirkulerende teenliggame teen die slenkdalkoorsvirus in die bloed van vee op gemiddeld sowat 30% beraam (43% by beeste, 28% by skape en 9% by bokke). Dit kon egter baie diere ingesluit het wat natuurlik aan die uitbreking blootgestel is. Twee jaar later het dit effens gedaal.
Hy glo nie baie boere het hul vee sedertdien teen slenkdalkoors ingeënt nie, en/of hulle probeer om entstof in die hande te kry. Dus is daar nou weer ’n groot vatbare kudde. Muskiete kom talryk voor, maar dit is nie bekend of die virus reeds teenwoordig is nie.
Soortgelyke ekologiese toestande kom nou volgens EcoHealth Alliance voor as rondom 2010 toe die laaste groot uitbreking (sien kaart onder) plaasgevind het.