Nie net die bemarking van wol gaan vorentoe ’n vernuwing beleef nie. Ook op Suid-Afrika se wolskaapboere wag ’n vreemde, nuwe bedeling: objektiewe meting.
Hulle sal voortaan, afgesien van die oog en die hand, ook die skaal, die wolweegpan, die maatstok, die mikronmeter en die aantekeningboek moet inspan om beter diere en wol voort te bring. Die land se wolboere sal moet leer meet om vorentoe so betalend moontlik te boer.
Dit geld die telers van die wol- skaap én die kwekers van die goue vag. Op die plaas sal die boer gekonfyt moet raak om so te sê alles meetbaar aan ’n wolskaap te meet, dit aan te teken met behulp van ’n makliker, betroubare aantekeningstelsel, en die gegewens te gebruik om betalender diere te teel.