Die styging in die prys van lusern oor ’n tydperk vergoed vir die kapitaalkoste om dít wat ’n mens op jou eie plaas kan produseer, as ’n veevoerbank op te berg. Dit sal selfs diegene wat nie self lusern kan kweek nie, loon om hul noodvoer in goedkoper tye van oorvloed te koop en dit te bêre.
Mnr. Hannes van Wyk, Merino-boer van die plaas Dagbreek by Williston, meen dit is ’n tweejarige droogte wat boere so uitmergel omdat staatshulp dan gewoonlik nog nie gegee word nie.
“Elke boer behoort dus voorsiening van die een of ander aard te maak om minstens hierdie periodieke droogtes die hoof te bied sonder om sy veld of sak te veel skade te berokken.”