Die omgewing se tradisionele drakrag is 6 ha/GVE. Sy troppe van 500 of meer beeste bewei ’n hektaar per dag. Die troppe word elke halfuur tot uur deur tweeman-werkerspanne met oprolbare elektriese draadjies na nuwe weiding gestuur.
Elke strook weiding rus minstens ’n volle jaar voor dit weer bewei word. Sy binnekampe, wat strook vir strook met die elektriese draadheinings afgekamp en bewei word, is 30-60 ha groot. Een kamp word ten volle benut voor daar na ’n volgende kamp aanbeweeg word.
Die omgewing gaan die afgelope drie jaar onder ’n kwaai droogte gebuk, maar Gideon kon sy kudde vergroot – met onderskeidelik 300 mm en 200 mm reën die afgelope twee groeitye (die omgewing se langtermyngemiddelde reënval is 600 mm).