Die handelsoorlog wat pres. Donald Trump van Amerika met China aan die gang gesit het, het Amerikaanse boere begin knyp deurdat dié land se uitvoer van grondstowwe vir veevoer – veral sojabone – skerp gedaal het.
China het jaarliks bykans 60 miljoen ton sojabone van sy totale invoer van net minder as 100 miljoen ton uit Amerika gekry. China het nou sy aankope verskuif na Suid-Amerika, wat tans ’n pryspremie verdien bó Amerika. Die sojaboonvoorraad in Amerika het byna verdubbel, wat pryse onder druk geplaas het.
Afrika-varkpes het intussen epidemiese afmetings in China begin aanneem. Die verwagting is dat tót 30% van China se sowat 600 miljoen varke van kant gemaak sal moet word om die hoogs aansteeklike siekte onder beheer te probeer bring. Die siekte het intussen na ander gebiede in Asië versprei. Dit is onlangs ook in Suid-Afrika gediagnoseer in die kuddes van twee boere wie se siekte- en toegangsbeheer na die hokke ontoereikend was.
Die teëspoed in die Chinese varkbedryf gaan wêreldwyd rimpelings deur verskillende landbousektore stuur. China is nie net die wêreld se grootste produsent van varkvleis nie, maar het begin om ook aansienlike hoeveelhede vleis in te voer. Die groot inkrimping in China se varkgetalle gaan die invoer van grondstowwe vir veevoer – veral sojabone – verder knou. Dit het pryse op die Chicago-graanbeurs die afgelope paar weke laer gedruk, wat Suid-Afrika ook nadelig raak, aangesien Suid-Afrika die Chicago-graanbeurs as prysmaatstaf gebruik.
Na verwagting gaan China se invoer van vleis (veral varkvleis) in die komende jaar of wat skerp styg. Amerikaanse varkboere (en graanboere) is besig om Trump onder groter druk te plaas om sy handelsoorlog met China te beëindig, aangesien hulle weer veevoer en sojabone na China wil uitvoer.
Die breë konsensus is dat ’n groot tekort aan varkvleis wêreldwyd gaan ontstaan, en Amerikaanse boere wil daaruit munt slaan. Die vraag uit China kan internasionale vleispryse hoër druk – veral vir vark- en hoendervleis, en in ’n mindere mate ook beesvleis. Suid-Afrika is ’n netto invoerder van vark- vleis.
Volgens die SA Varkprodusente-organisasie (Savpo) het Suid-Afrika in 2018 sowat 35 269 ton varkvleis ingevoer – meestal ribbetjies – en sowat 12 000 ton na hoofsaaklik sy buurlande uitgevoer. Internasionale ontleders van die landboumark verwag dat China nie veel van ’n keuse gaan hê as om sy vleisinvoer aansienlik te verhoog nie, wat ’n nuwe vraag skep en opwaartse druk op pryse plaas. Dit kan indirek ook plaaslike vleisprodusente bevoordeel.
Internasionale handel
Die jongste samestelling van vleisverbruik wêreldwyd word in grafiek 1 getoon. Tot sowat twee jaar gelede is varkvleis wêreldwyd die meeste verbruik, voordat hoendervleis dit verbygesteek het. Beesvleis beklee die derde plek, terwyl die mark vir bok- en skaapvleis redelik klein is.
China lewer én verbruik wêreldwyd die meeste varkvleis. Die meeste van sy varkprodusente is kleinboere wat vir eie verbruik en verbruik in die onmiddellike omgewing produseer. Hulle pas nie juis maatreëls toe vir die voorkoming van siektes nie. Op grond daarvan word geglo dat dit baie moeilik gaan wees om varkpes te stuit, en uiteindelik gaan baie klein varkprodusente die stryd gewonne gee. Mettertyd sal groot, kommersiële eenhede tot stand kom. Die dilemma is egter dat China te min grondstowwe vir veevoer produseer – veral soja-oliekoek.
Die samestelling van en groei in China se vleisinvoer word in grafiek 2 aangedui. Varkvleis maak die grootste volume uit, gevolg deur beesvleis en hoendervleis.
Daar word bespiegel dat China meer hoendervleis sal invoer om die tekorte te verlig, wat kan help om die storting van goedkoop hoendervleis deur groot uitvoerlande in Suid-Afrika te verlig. Die huidige verskaffers van varkvleis aan China is hoofsaaklik die Europese Unie, Kanada, Brasilië en Amerika.
In die geval van beesvleis is Suid-Amerika (Brasilië, Argentinië en Uruguay) die voorkeurverskaffer en verantwoordelik vir sowat 70% van Chinese beesvleisinvoer. Daar is tans onderhandelings tussen Suid- Afrika en China aan die gang om dit vir plaaslike vleisprodusente moontlik te maak om vleis daarheen uit te voer. Die uitbreking van siektes soos bek-en-klouseer, voëlgriep en Afrika-varkpes skep egter struikelblokke vir Suid-Afrika.
Hoe kan dit SA vleisprodusente raak?
Suid-Afrika voer heelwat hoendervleis (sowat 550 000 ton per jaar) en minder varkvleis (sowat 35 000 ton per jaar) in. Betreklik min bees- en skaapvleis word ingevoer, hoofsaaklik as gevolg van die hoër invoertariewe wat op dié produkte van toepassing is, maar nie op hoender- en varkvleis nie. Daar is ’n onderlinge verwantskap tussen die verskillende vleissoorte. Die voorkeure en inkomste van verbruikers speel ook ’n rol.
Die invoer van so ’n groot hoeveelheid hoendervleis teen gesubsidieerde pryse plaas die hele Suid-Afrikaanse vleismark onder druk. Na bewering word ván die hoendervleis ingevoer teen laer pryse as die produksiekoste in die lande van herkoms. As die internasionale vraag na veral vark- en hoendervleis groei as gevolg van ’n groter vraag uit China, kan dit internasionale vleis- pryse verhoog. Dit sal beteken dat minder (en dus duurder) vleis op die plaaslike mark beskikbaar sal wees, wat goeie nuus vir plaaslike produsente is.
Die Suid-Afrikaanse invoer van varkvleis word in grafiek 3 getoon.
Die stygende neiging is duidelik, hoewel die plaaslike produksie ook groei. Produksie in Suid-Afrika brei uit in groot, hipermoderne eenhede wat tot 5 000 sôe huisves, met baie streng biosekerheidsmaatreëls. Dit is moeilik vir kleinboere om met sulke eenhede mee te ding, en die onlangse uitbrekings van varkpes in Suid-Afrika het – soos in China – by kleinboere ontstaan.
In grafiek 4 word getoon waar Suid-Afrikaanse varkvleisinvoer vandaan kom.
In baie gevalle is die pryse baie mededingend en selfs goedkoper as in Suid-Afrika vir die betrokke, verwerkte snitte. ’n Voorbeeld hiervan is ribbetjies, waarvan daar ’n oorskot in Europa is. Die verwagting is dat, indien uitvoerlande hul vleis na China kan stuur, vleispryse internasionaal en dus ook plaaslik sal styg, onder meer weens duurder invoer.
Die huidige onstabiliteit op graan- en vleismarkte bevestig weereens dat Suid- Afrikaanse boere regstreeks blootgestel is aan gebeure op die internasionale markte, waar hulle moet meeding sonder enige staatsondersteuning. Die uitbreking van siektes in die vleisbedryf hou nuwe gevare vir die wêreldhandel in. Dit geld ook vir plaaslike, kommersiële kuddes wat blootgestel word aan die toenemende risiko van siekteoordragings vanaf klein bestaanskuddes wat nie ordentlik bestuur word nie.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.