Die meeste virussiektes wat oorsee amok maak vir varkboere, soos blou-oorsiekte by varke (PRRS) en oordraagbare gastro-enteritis, kom nie in Suid-Afrika voor nie, het dr. Peter Evans, verantwoordelik vir veeartsenykundige skakeling by die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie (Savpo), op dié organisasie se jaarvergadering einde 2021 gesê.
Die jaarvergadering is weens die ontwrigting van die covid-19-pandemie virtueel gehou. “Streng invoerregulasies vir teelmateriaal en varkprodukte, saam met die beheer van afval, verminder die risiko dat hierdie gevaarlike siektes Suid-Afrika binnekom,” het hy gesê.
Mnr. Johan van der Walt, uittredende voorsitter, het gesê kommoditeitsorganisasies kan nie in afsondering vir dieregesondheid baklei nie. Ander belanghebbendes, soos nasionale en provinsiale dieregesondheidsdepartemente, private veeartse, verskaffers van produksiemiddels en ander betrokkenes, moet saamwerk om diere veilig te hou, omdat siektebestuur en -bekamping in nasionale belang is.