
Volgens die nasionale veediefstalvoorkomingsforum het veediefstal beesboere sowat R610 miljoen gekos, terwyl dit bokboere R65 miljoen en skaapboere R143 miljoen skade berokken het.
Veediefstal veroorsaak egter nie net geldelike verliese nie, maar kan ook werksverliese en selfs hongersnood veroorsaak vir mense wat van vee afhanklik is vir voedsel.
Navorsing oor veediefstal wys dat die aangemelde voorvalle met 6,5% toegeneem het, maar dit is nie seker wat dié toename veroorsaak het nie. Die forum meen egter dat boere die situasie vererger deur nie hul diere te merk en sodoende voorkomend op te tree om veediefstal te voorkom nie.
“Die polisie kan meer doen in die stryd teen veediefstal, maar belanghebbendes in die rooivleisbedryf is ook aandadig omdat hulle nie aan wetgewing voldoen en toesien dat hul vee behoorlik gemerk word nie.
“Aankopers van vee, soos boere, spekulante, voerkrale en abattoirs, kan onwetend die ontvangers van gesteelde vee wees as hulle nie verseker dat die vee wat hulle aankoop, aan die voorskrifte van die wet voldoen nie.”
Die Wet op die Identifikasie van Diere (Wet 7 van 2002) is deurgevoer om boere te verplig om hul diere identifiseerbaar te maak sodat die polisie nie net beter daartoe in staat is om veediefstal te beveg nie, maar ook gesteelde vee aan hul eienaars kan terugbesorg. Die forum sê egter dat baie veeboere nie aan die basiese bepalings van die wetgewing voldoen nie.
“Die wetgewing bestaan reeds baie jare en talle vee-eienaars voldoen steeds nie aan die vereiste dat vee identifikasiemerke moet hê nie. Sedert die registrasie van identifikasiemerke het baie dinge egter in Suid-Afrika verander.
"Die uitvinding van die selfoon en die ineenstorting van Telkom-lyne in landelike gebiede het daartoe gelei dat talle telefoonnommers nie meer in werking is nie. Dit beteken dat die polisie die betrokke eienaar nie kan kontak wanneer vee teruggevind word nie, tensy ’n omvattende poging aangewend word.”
Boere wat versuim om hul diere in ooreenstemming met die bepalings in die wetgewing te merk, kan swaar gestraf word as hulle skuldig bevind word aan die oortreding van dié wet. Volgens die forum het ’n landdros in die Vrystaat ’n boer daaraan skuldig bevind het dat hy die wet oortree het, aangesien hy nie sy vee-eienaarskap met ’n dokument van identifikasie kon bewys nie. Dié boer is tot ’n boete van R30 000 of twaalf jaar tronkstraf gevonnis.
“Dit is duidelik dat die regbank in Suid-Afrika bewus is van die ekonomiese en emosionele impak van veediefstal.”
Die forum versoek dat vee-eienaars se identifikasienommers bygewerk moet word by die registrateur van brandmerke, hul unieke brandmerke geregistreer en op hul diere aangebring moet word en dat belanghebbendes in die veehandelbedryf vee-eienaarskap moet bevestig en weier om vee te ontvang tensy hulle gemerk en identifiseerbaar is.
Registrateur van diere-identifikasiemerke; 012 319 6000 of e-pos: sanetc@daff.gov.za. Die straatadres is Delphen-gebou, hoek van Annie Bothalaan en Unionstraat, Riviera, Pretoria.
Dié webwerf kan besoek word vir nog inligting.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.