
Dié boekjaar se statistieke sal in September bekend gemaak word.
Mnr. Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum, sê die totale verlies weens veediefstal het in die 2017-’18-boekjaar op sowat R1,1 miljard te staan gekom. “Ons verwag dat die verlies vir die afgelope boekjaar tot R1,3 miljard kan styg.”
Clack sê daar kan drie redes wees vir die styging in veediefstalstatistieke. Die eerste kan ’n werklike toename in dié misdaad wees, die tweede kan wees omdat boere veediefstal weens bewusmakingsveldtogte meer aanmeld as in die verlede en derdens kan dit ’n kombinasie van die eerste twee redes wees. “Ons hoop dat dit weens meer gereelde aanmelding van veediefstal is.”
Droogte
Volgens Clack is die grootste styging in veediefstal oor die afgelope paar maande in Noordwes en Limpopo aangeteken, veral wat die steel van skape en bokke betref. “Die stygings wissel tussen van 22% tot 40% in sekere distrikte in die twee provinsies.”
Die enigste provinsie wat ’n daling aangeteken het, is die Noord-Kaap. “Een van die redes daarvoor kan die erge droogtetoestande in die provinsie en ’n gevolglike afname in veegetalle wees.”
Die diefstal van beeste het met sowat 5% in die Noord-Kaap gedaal, terwyl die diefstal van skape en bokke met tot 20% gedaal het.
Die stygings wat in die Noordwes en Limpopo aangeteken is, kan ook ’n gevolg daarvan wees dat die veediefstal wat in die Noord-Kaap plaasgevind het, na dié provinsies geskuif het.
Slag en speenkalwers
Clack sê die diefstal van diere wat ’n tyd lank in veral die noordelike dele van die Vrystaat voorgekom het, het nou na Gauteng geskuif. “Voorheen het dit gereeld naby onder meer Parys plaasgevind. Nou kom dit gereeld by onder meer Bronkhorstspruit en Bapsfontein voor. ’n Mens kan duidelik sien dat waar jy in een gebied optree om die misdaad te bekamp, dit oorskuif na ’n ander gebied.”
Die diefstal van speenkalwers jonger as ses maande wat vroeër vanjaar voorgekom het, het begin afneem. Clack het vroeër aan Landbou.comgesê dat meer as 200 speenkalwers binne drie weke in Maart en April in die Vrystaat en Noordwes gesteel is.
Die veediewe het hulle op dié jong kalwers toegespits aangesien ’n vee-eienaar volgens wetgewing ’n speenkalf eers op ses maande moet merk. Hy sê hoewel die misdaad steeds plaasvind, kom dit minder voor omdat die kalwers ouer word.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.