Die bek-en-klouseer wat in Limpopo naby die Krugerwildtuin uitgebreek het, is skynbaar vanaf buffels oorgedra. Dit is ’n paar weke gelede by twee beeste net buite die bek-en-klouseerbeheergebied gediagnoseer, en dit het gelei tot die opskorting van vleisuitvoer uit Suid-Afrika.
Teen druktyd het dit hoofsaaklik Botswana en Namibië gegeld, wat nie juis ’n mark vir Suid-Afrikaanse beesvleis is nie. Die kans is egter goed dat ander invoerlande hul voorbeeld gaan volg, en gaan aandring op veiligheidswaarborge en maatreëls. Dit hou die risiko in dat vleisuitvoer heeltemal gestaak kan word.
Volgens statistieke van die Departement van Handel en Nywerheid beloop vleisuitvoer uit die Suider-Afrikaanse Doeane-unie kwartaalliks sowat R1 miljard, wat aansienlik is. Paniek het gevolglik onder veeboere in Suid-Afrika ontstaan, en gerugte van skerp prysdalings vir speenkalwers en lammers het vinnig versprei.