
Die veranderinge gaan ook meer rekenaarvriendelik wees. Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) is egter bekommerd dat die staat stadig beweeg daarmee, het mnr. Willie Clack, vise-voorsitter van die nasionale RPO, op die jaarvergadering van die Wes-Kaapse RPO op Caledon gesê.
Oor die statutêre heffing op rooivleis het hy gesê as die verbruik van rooivleis met 20% vermeerder kan word, sal die heffing sowat R12 miljard teen 2030 kan beloop. “As mense nie rooivleis eet nie, maak ons nie geld nie – so eenvoudig is dit.”
Die heffing word gebruik vir diere- en openbare gesondheid, die groei in marktoegang, ’n algehele groei van die rooivleisbedryf, mededingendheid en volhoubaarheid. Suid-Afrika voer net 5% van sy beesvleisproduksie uit. Handelsprotokolle bly ’n struikelblok, terwyl mededingendheid in gedrang kom weens verliese weens veediefstal en roofdiere.
Naspeurbaarheid vir die beheer oor vee en om ooreenkomste na te kom, is belangrik. Elke dier moet geïdentifiseer kan word. Die Australiese stelsel word vir gebruik by beeste oorweeg.
Lt.kol. Johan Smit, bevelvoerder van die veediefstaleenheid in die Wes-Kaap, het gesê veediefstal is een van die moeilikste misdade om te ondersoek. Dit gebeur in die oop veld, daar is selde ooggetuienis en dit is maklik. “Tog behaal die veediefstaleenhede in die Wes-Kaap goeie suksesse met ’n skudigbevindingkoers van 98% in die hof.” Dikwels sien boere egter op om in die hof te gaan getuig, maar dit is noodsaaklik vir skuldigbevindings.
Werkloosheid is ’n toenemende probleem, want baie mense wend hulle na veediefstal omdat dit maklik is. Geld word ook gegenereer deur potslag. Vleisbestellings word selfs by sindikate geplaas.
Smit het ’n ernstige beroep op boere gedoen om hul diere gereeld te tel. “Wanneer diere gesteel word, is dit belangrik om te weet presies hoeveel weg is – iets wat dikwels nie gedoen kan word nie. Meld diefstalle so vinnig moontlik aan.”