
* Cape Wools het net na 14h00 die nuus aan Landbou.com bevestig.
“Dit is met groot verligting dat ons bevestig dat die Chinese verbod op die invoer van vetwol van Suid-Afrika onmiddellik opgehef is,” sê Cape Wools luidens ’n verklaring.
“Dit is mondeling aan ons oorgedra deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en die aankondiging is geplaas op die amptelike Chinese doeane-owerheid se webblad.”
Cape Wools is verlig dat die verbod opgehef is sonder dat die bedryf aan bykomende vereistes moes voldoen.
“Ná maande se onderhandelinge wil ons by Cape Wools namens die wolbedryf ons opregte waardering oordra aan die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, die departement van internasionale verhoudinge en samewerking, die departement van handel, nywerheid en mededinging, asook die ministers van landbou, grondsake en landelike ontwikkeling, en van handel, nywerheid en mededinging vir hul ondersteuning en bystand.”
Die aankondiging van die verbod in April was ’n onverwagse wending vir die bedryf en volgens Cape Wools “was dit ’n rede vir diepe bekommernis”.
“Ons is baie dankbaar dit is agter die rug en dat sake kan voortgaan soos normaal.”
China voer 70% tot 80% van Suid-Afrikaanse vetwol in. Kopers en makelaars het voortgegaan om die wolveilings aan die gang te hou en wol in te neem en aan te koop nadat die verbod aangekondig is. Die bedryf het net voor die begin van die 2022-’23-seisoen verlede week aangekondig dat daar ’n beperking geplaas sal word op die aantal bale wol wat per veiling ingekoop word totdat die verbod opgehef en die agterstand weens die bottelnek van wol wat nog in die pakhuise is, uitgewis is.
Een van die Suid-Afrikaanse wolkopers het ook die blye nuus op Facebook gedeel. “Goeie nuus vir die Suid-Afrikaanse wolbedryf met die Chinese doeaneowerhede wat amptelik aangekondig het dat die verbod vir uitvoere van Suid-Afrikaanse wol met onmiddelike effek opgeskort is,” het mnr. Clarence Friskin van Segard Masurel op sy groep se Abelusi Wool-blad op Facebook gesê.
Me. Thoko Didiza, die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling sowel as mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het luidens 'n verklaring die aankondiging deur China verwelkom. "Skakeling met die republiek van China het op 'n positiewe manier plaasgevind en die gekoördineerde pogings van die verskillende afdelings van die Suid-Afrikaanse regering het grootliks gehelp."