Volgens dr. Christiaan Scherpenzeel is hy nie teen die gebruik van antibiotika as sodanig gekant nie. “As mense en diere siek is, moet hulle daarmee behandel kan word.”
Hy sê egter daar rus ’n verantwoordelikheid op die landbou om dit verantwoordelik te gebruik. Scherpenzeel het op die tweejaarlikse Grootkudde-konferensie in Port Elizabeth gepraat oor hoe Nederland dit kon vermag om die gebruik van antibiotika in die melkbedryf te verminder sonder dat dit ’n nadelige uitwerking op dieregesondheid gehad het.
Volgens hom ervaar Suid-Afrika tans ’n toename in melkproduksie, ondanks ’n afname in die aantal melkboere, wat beteken die produksie per plaas is aan die toeneem. Hy sê die gebruik van antibiotika neem gewoonlik drasties toe waar kommersiële produksie toeneem. Moderne bestuur op melkplase vereis dat kuddeveeartse ’n kudde- en gevalspesifieke behandelingsprotokol moet opstel.