
Met gure soos haelstorms en koue wat onlangs tot rampspoedige verliese vir skaapboere gelei het, het baie boere weer begin kyk na versekering teen sulke gebeure. Een redelik bekostigbare opsie is die versekeringsproduk van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) en Hollard waar die premie by R4,50 per skaap begin.
Volgens die NWKV se webtuiste kan skaapboere nou groter dekking teen sekere eenmalige rampe uitneem. Die perke van dié rampdekking is uitgebrei. Waar die polis se uitbetaling voorheen tot R1 miljoen vir ’n enkele gebeurtenis beperk is, is die dekkkingsopsies verhoog en kan daar nou tot R6 miljoen eenmalig uitbetaal word. Vir R4,50 per skaap per jaar kan R1,5 miljoen per rampgebeurtenis en R1 500 per skaap uitbetaal word. Die premie vir boere wat nie lede van die NWKV is nie, is R9 per skaap per jaar.
Boere kan hul skape teen rampe soos brand, weerlig, hael, sneeu en verkluiming verseker. Beperkte dekking vir die vervoer van skape na en vanaf die skeerlokaal is ook ingesluit. Nog inligting en aansoekvorms is op die NWKV se webtuiste by https://www.nwga.co.za/insurance beskikbaar.