
’n Vier maande oue, rasegte Wagyuvers het R400 000 gehaal. Sy is saam met ’n Bonsmara-kruiskoei verkoop wat die bevrugte embrio dra van twee topbloedlyne uit Japan. ’n Swart Wagyubul van 18 maande oud het R350 000 gehaal.
Die omset van die veiling waarop 50 lotte onder die hamer gekom het, was R5,5 miljoen.
Mnr. Andries Schutte van Platinum Beef, wat die spogveiling by Castle de Wildt aangebied het, sê daar was definitief winskopies. Hy twyfel of boere in Limpopo weer sulke goeie teelmateriaal teen soortgelyke pryse sal kry.
‘Wildsborrel’
“Ek is nietemin baie tevrede. Daar was ’n klomp versigtige kopers en mens kon sien baie van hulle is bang vir nog ’n ‘wildsborrel.’ Tog getuig die stampvol saal en die stewige pryse wat wel betaal is, van ’n gesonde belangstelling in die Wagyu.”
Hoewel hy begrip het vir die vrese dat die Wagyumark oorversadig kan raak soos wat die afgelope twee jaar met verskeie skaars wildspesies gebeur het, is hy nie bekommerd daaroor nie. “Onthou, ons praat hier van beesvleis, ’n produk met ’n goed gevestigde verbruikersmark. Suid-Afrika kan in hierdie stadium nie eens in die plaaslike vraag voorsien nie, wat nog te sê van die uitvoermark.”
Schutte sê ’n Suid-Afrikaanse kettingwinkelgroep wat hom op produkte van hoë gehalte toelê, het reeds aangedui dat hy teen einde 2020 ’n bestendige lewering van 200 000 Wagyukarkasse per jaar wil hê. Die hele Suid-Afrikaanse Wagyubedryf produseer tans maar 5 000 karkasse per jaar.
Hy glo ook Wagyu gaan altyd in ’n nismark verhandel. Selfs in Amerika en Australië, waar al 30 jaar met die ras geboer word, oorskry die vraag steeds die aanbod – veral in daardie lande se uitvoermarkte.
Die huidige verbod op Suid-Afrikaanse vleisuitvoer weens bek-en-klouseer beteken dat daar nie nou Wagyuvleis na die Midde-Ooste uitgevoer kan word nie, maar Schutte sê daar is reeds ’n bestaande mark met ’n gesonde vraag na Suid-Afrikaanse Wagyuvleis in dié streek.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.