Die teel van vee vir produktiwiteit en winsgewendheid gaan oor meer as om die jongste wetenskaplike navorsing te benut. Teling is fundamenteel eenvoudig en nie die een of ander wetenskaplike kuns wat net sekere telers beskore is nie. Reproduksierekords, goeie waarneming en die regte metings is al wat jy nodig het.
Pikkie Uys boer al lank met Drakensberger-vleisbeeste en Merino- en Afrino-skape. Hy was ’n spreker op die onlangse herlewingslandboukonferensie by Reitz in die Vrystaat. Die Uyse se Drakensberger-kudde is die oudste in Suid-Afrika en hul Merino-kudde die oudste in die destydse Transvaal.
Volgens Pikkie het die meeste veeboere reeds goeie teelmateriaal in hul kuddes. Hulle werk is om hierdie goeie genetiese eienskappe te identifiseer en te vermeerder. “Dit is die moeilikste deel van teling. Dan moet jy hierdie beste teelmateriaal wat jy het, bymekaar maak en verder uitbou.”