
'n Landbouweekblad-leser, mnr. Johan van Niekerk van die plaas Nuwe Pos, tussen Darling en Malmesbury, het die meegaande foto aangestuur.
Hy sê 'n snaakse ding het gebeur. 'n Dragtige ooi, wat baie swaar geloop het, het gaan lê. Hulle het vermoed dat die kruisras-Dormer-ooi dragtig is met 'n drieling, en sy is geslag om haar lammetjies te red, omdat komplikasies sou intree.
Die normale lammetjie op die foto is daarna uit die skaap se baarmoeder gehaal, plus die groot lam wat nes 'n abnormale mens-baba lyk. Toe die abnormale lammetjie uitgehaal is, het dit 'n paar keer asem gehaal, maar het gevrek, sê Van Niekerk. Die normale lam word nou hans grootgemaak.
Die foto is na dr. Gareth Bath van Onderstepoort gestuur om sy mening oor die verskynsel vas te stel. Dr. Bath skryf: “Dit lyk na anasarca (erge edeem, in sybokke het dr. Danie Wentzel dit in die sewentigerjare gekoppel aan “habitual abortion”). Ek dink dat aangesien die ander lam skynbaar normaal voorgekom het, dat die fout meer waarskynlik by 'n ontwikkelingsprobleem ("developmental abnormality") lê. Die veneuese of limf-dreinasie is dalk betrokke. Minder moontlik dat dit oorerflik is, maar nie onmoontlik nie.”
* Kontak Johan van Niekerk op 082 783 0512 of vlakenberg@icloud.com as jy daaroor wil gesels.