Die Santa Gertrudis-stoetery Rensbou se vrugbare koeie met hul kort tussenkalfperiode (TKP) bring vir hul eienaar nie net eerbewyse in die trofeekas nie, maar ook ’n goeie opbrengs op sy belegging met uitstekende teelmateriaal.
Mnr. Dail van Rensburg boer sedert 1983 op die plaas Kalkpan by Delareyville. Hy besit ook ander plase by Delareyville en Stella. Hy het van die begin af gesaai en met Santa Gertrudis geboer.
In die 1980’s het hy ook Ankoles bekom en in 2000 Romagnolas bygevoeg. Van Rensburg is vanjaar die wenner vir die Santa Gertrudis- én Romagnola-ras nadat hy voorheen dieselfde eerbewys vir ’n Ankole-koei behaal het. Hy palm gereeld die Elitekoeipryse vir hierdie drie rasse in.