
Mnr. Zeiss Jordaan van die Dohne-Merino-stoetery Sneeuberg van die Zuurfontein-boerdery naby Cradock in die Oos-Kaap het einde Oktober ’n groep van 29 Dohne-Merino-wisselramme verkoop aan nege kliënte deur mnr. Pieter Aucamp, BKB se woladviseur in die Mosselbaai-Riversdalgebied.
Wat die groep so spesiaal maak, is dat altesaam 7 drielingramme, 19 tweelinge en 3 eenlingramme verkoop is. Mnre. Tim en James Newton van Ladismith in die Klein-Karoo het ses van die drielinge en twee van die tweelinge vir hul eie Dohne-Merino-kudde aangekoop.
“Ek dink nie dit het al in Suid-Afrika gebeur nie,” sê Aucamp.
Hy verduidelik dat tweelingramme redelik gereeld beskikbaar is, maar dat die persentasie drielingramme in die groep merkwaardig is. “Benewens die wol en die bouvorm waarna ons kyk, was die vrugbaarheid van die groep ramme ’n merkwaardige prestasie.”
Volgens Aucamp is vrugbaarheid, bouvorm en die gehalte van wol van die belangrikste eienskappe waarna kopers kyk. Sy kliënte het veral van die meerlingeienskappe aangevra. “Hoe meer lammers jy kry, hoe meer geld maak jy.”
Nog ’n kenmerkende eienskap van die Dohne-Merino-stoetery Sneeuberg se ramme is hul aanpasbaarheid. Hy voeg by dat die teler ook baie goeie naverkopediens lewer, baie behulpsaam is en gereeld met sy kliënte opvolg.
Aucamp sê vir hom as agent beteken dit baie om dié vrugbare ramme aan sy kliënte te kan lewer, wat tot ’n beter omset vir wol en vleis in hul boerdery kan lei.
Jordaan plaas klem op presisievoeding en reproduksie. Hy selekteer veral vir meerlinge in sy kudde. Sy aanslag is om eerder sy ramme uit goeie ooie met meerlingeienskappe te teel as om sy ooie van goeie ramme te teel. Die kudde lewer ’n MF4-tipe wol, en lewer ’n gemiddelde skeersel van 19-19,5 mikron, met uitstekende gehalte, voorkoms, kondisie en ’n hoë skoonopbrengs.