Plaaslike varkboere moenie hul hoop op nuwe entstowwe teen Afrika-varkpes (AVP) wat tans oorsee ontwikkel word, plaas nie.
Hulle moet eerder voortgaan met streng bioveiligheidsmaatreëls om uitbrekings te bekamp. Só het dr. Lesley van Helden van die Wes-Kaapse departement van landbou se veeaartsenydiens, in ’n uitgawe van die provinsie se Epidemiology Report gewaarsku.
AVP veroorsaak erge bloeding en hoë koors onder besmette diere. Dit versprei binne dae deur ’n trop. Besmette diere of besmette afvalkos is gewoonlik die bron daarvan. Die ontwikkeling van ’n entstof bly ’n tameletjie.