
Kom ons doen dit reg, dan kan ons dit altyd doen. Dit was volgens mnr. Gerhard Schutte, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum en hoofbestuurder van die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), die organisasie se siening van die begin af oor die uitvoer van lewende hawe. Dit is egter moeilik om iets volgens die riglyne te doen as die riglyne ontbreek.
Op 31 Maart verlede jaar is aangekondig dat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling konsepriglyne vir die uitvoer van lewende hawe vir kommentaar opgestel het.Die sperdatum vir kommentaar op dié riglyne was op 30 April verlede jaar. Sedertdien het die departement nog geen aanduiding gegee van wanneer die amptelike protokol bekend gestel sal word nie.
Schutte sê dit is onverstaanbaar dat daar steeds nie riglyne of ’n protokol vir die uitvoer van lewende hawe is nie byna ’n jaar nadat die spertyd verstryk het. “Ons benadering is dat ons mooi na dierewelstand moet omsien en dat die protokol daarvoor voorsiening moet maak sodat ons met die uitvoer van lewende hawe kan voortgaan.”
Hy sê daar is groot opgewondenheid oor die uitvoer van lewende hawe omdat dit inklusief is en opkomende boere betrek, asook tot 6% van plaaslike produksie kan absorbeer.
Benewens die gebrek aan ’n protokol is kwessies by Suid-Afrikaanse hawens volgens hom ook ’n struikelblok en iets wat handelsvennote in ag sal neem wanneer hulle bestellings vir lewende hawe vanuit Suid-Afrika plaas. “Ons sal al hierdie tipe struikelblokke uit die weg moet ruim as ons ons handelsvennote ten volle wil bedien.”
Hy sê die gebrek aan kapasiteit en bereidwilligheid by die regering om die nodige te doen skaad internasionale handel.
Al Mawashi SA het verlede week in ’n verklaring aangekondig dat dié uitvoermaatskappy steeds wag op ’n bestelling uit Koeweit. Die gebrek aan ’n protokol vir die uitvoer van lewende hawe is ’n rede waarom daar nog nie ’n bestelling geplaas is nie.
Landbou.com het reeds twee versoeke vir kommentaar aan die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gerig om onder meer te bepaal waarom die bekendstelling van die protokol so lank duur, wanneer die bekendstelling daarvan verwag kan word en hoe die departement van plan is om die impak op die rooivleisbedryf te versag.