Die genootskap het sy GWB-stelsel onlangs op inligtingsdae in Pretoria, Bloemfontein en die Paarl bekend gestel. Dr. Fanie Steyn, voorsitter van Wagyu SA, sê die stelsel van volle naspeurbaarheid word onder meer ondersteun deur die gebruik van peutervrye elektroniese oorplaatjies wat DNS-monsters van die geregistreerde beeste bevat.
Die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy (Samic) sal die stelsel monitor. “Dit beteken dat die GWB-program tans die beste vleisnaspeurbaarheidstelsel in die land is,” sê Steyn.
“Daarbenewens word die Wagyu-karkasse ingevolge die GWB-program in abattoirs volgens die Australiese marmeringtelling gegradeer. Buiten die gebruiklike vleisklassifikasie van A, B of C wat die ouderdom van die dier en die buitenste laag vet aandui, word ’n marmeringtelling van 1 tot 9 ook op die karkas aangebring.”