
(Die karkas van ’n Chianina wat verlede jaar geslag is, het 814 kg geweeg.)
Dr. Thomas Steyn van Absolute-Wagyu, ’n veearts en een van die eienaars, sê die os, ’n kruising tussen ’n Chianinakoei en die Wagyu-bul Bentson, het lewend 1 050 kg geweeg. Die uitslagpersentasie was 61,37, wat volgens Steyn met die gemiddelde van meer as 60% in hul stoetery ooreenkom.
’n Agterkwart van die os het 171,65 kg geweeg.
Die driejarige dier is op die veld afgerond tot op 400 kg en daarna ’n jaar lank intensief gevoer om die marmering te verkry wat ’n verbruiker R500-R600/kg vir sy keursnitte uit die sak jaag.
Absolute-Wagyu behoort aan Steyn, sy broer Fanie (verbonde aan Ramsem), drs. Colin Albertyn en Willie van Heerden (al drie ook veeartse), en mnr. Lukas van Zyl, ’n sakeman verbonde aan Silostrat.