Groot genetiese spronge is die Suid-Afrikaanse Wagyubedryf se voorland danksy die toepassing van die nuutste tegnologie. Dit behels onder meer ’n kamera wat digitale beelde teen hoë resolusie onder gestandaardiseerde toestande van die snitoppervlak van ’n beeskarkas kan neem.
Sagteware kan binne sekondes die persentasie tussenspierse vet aandui, die fynheid of growwe voorkoms van die marmering, die vorm van keursnitte, asook die kleur van die vleis en vet.
Dr. Joe Grose, ’n Australiese Wagyuteler en -bedryfsleier, sê in die eerste dekade sedert die toepassing van BLUP-teelwaardes en die versameling van karkasdata in Japan het die vordering met marmering in Japan met 50% toegeneem. “Die Japannese het van 28% tussenspierse vet in hul karkasse tot 42% in drie geslagte van hul beeste gevorder.