
Dr. Cobus Oberholster, BKB se hoofbestuurder vir vee, eiendomme en afslaers, sê hy is nie oor die veilingsneigings ten opsigte van grootvee bekommerd nie, aangesien goeie gemiddelde pryse steeds op bulveilings behaal word.
Volgens Oberholster is noordelike produksietoestande effens beter, wat die prys van bulle op veilings vir die verkoper bevoordeel. “ ’n Tuliveiling in die Oos-Kaap het onlangs goed gevaar. Op ’n veiling op Barkly-Oos waarop Herefords, Bonsmaras en Angusse verhandel is, is nie uitskieter-pryse behaal nie, maar goeie, gemiddelde pryse,” sê hy.
Die verlangsaming in die mark vir die vleis van kleinvee kan toegeskryf word aan die verbruiker wat nie genoeg rooivleis eet nie. “Aangesien die plaaslike produksie van skaapvleis laer as die binnelandse verbruik is, sou ’n vraag na die produk die prys opjaag. Die verbruiker koop nie.”
Volgens Oberholster is die droogte in die westelike dele van die Karoo intens, wat ’n ongunstige uitwerking op die aanbod van lammers het en gevolglik dié prys moes ondersteun. Dit gebeur egter nie.
“Van die derde week van Januarie af begin die kleinveebedryf se nuwe reeks stoetveeveilings, wat ’n aanduiding van verhandelingsneigings in die nuwe jaar sal wees. Die produksietoestande in die droogtegeteisterde dele kan ’n demper plaas op die verkoop van ramme,” sê hy.
Markwaarnemers hou ook asem op om te sien of kleinhandelverkope in die komende Kerstyd dieselfde afname as in Desember 2018 en Januarie 2019 gaan ondervind toe die mark betreklik plat geval het. “ ’n Oplewing in kleinhandelverkope vanjaar sal meehelp dat die opgehoopte voorraad rooivleis weggewerk word,” sê Oberholster.