Honderde kopers, selfs vanuit buurlande, daag jaarliks op. Maar wat kom soek kopers op ’n veiling soos hierdie—en wat kry hulle?
Die Bonsmara-stoetery Poggenpoel Molopo se produksieveiling, wat vanjaar die 17de keer gehou is, was in die nuus toe ’n rekordprys van R2,1 miljoen vir ’n stoetbul behaal is en nog ’n topbul vir R1,2 miljoen opgeveil is.
Maar vir mnr. Kobus Poggenpoel en sy seuns, Phillip en Kobus jr., is rekords nie die belangrikste faktor wanneer veilingsukses gemeet word nie. Dit is eerder om elke koper – klein of groot – in staat te stel om op hul veiling ’n dier te kry wat in elkeen se individuele behoeftes voorsien.