
Dit is die derde keer dat die stoetery op dié wyse deur die Dohne-Merinotelersgenootskap van Suid-Afrika vereer is. Die tweejaarlikse toekenning is op die jaarvergadering van die genootskap in Bloemfontein gedoen.
Wessels se pa, wyle mnr. Jurie Wessels, was by die vorige twee toekennings betrokke. Boeta behartig sedert 2011 die stoetery nadat hy en sy broer, Kosie, die boerderybedrywe verdeel het.
Wessels se teeldoelwitte is die vrugbaarheid van sy moederlyne en wol van goeie gehalte. “Die bydrae van ’n ram met ’n goeie moeder beteken klaar meer as 50% van die sukses met die teelvordering van die kudde,” sê hy.
Die genootskap het ’n Vrystaatse teler vereer as die Dohne-Merinoman van die Jaar. Hy is mnr. Wikus Bekker van die All-In-One-stoetery op die plaas Geluksdam by Edenburg. Hy is ook deel van die Crux-telersgroep. Hy is vereer vir sy sukses om Dohne-Merino-embrio’s na Suid-Amerika uit te voer.