
Dit sal meebring dat witter en helderder kledingstukke daaruit vervaardig kan word. Dié deurbraak volg op vyf jaar se navorsing deur wetenskaplikes van die Commonwealth Scientific and Industrial Research Organisation (CSIRO) en Deakin-universiteit in Australië.
Volgens ’n berig in The Land sal die proses wat onder die handelsmerk Everwhite Wool bemark word, voorkom dat wol wat aan sonlig blootgestel word, mettertyd vergeel.
Mnr. Keith Millington, die projekleier wat aan die CSIRO in Geelong in Victoria verbonde is, sê die proses sal verseker dat wol met katoen en ander sintetiese vesels kan meeding waar wit en pastelkleure ’n voorvereiste is. “Dit behoort veral in ontspanningsdrag tydens die herfsmaande in die Noordelike Halfrond byval te vind.”
Volgens Millington is daar met die aanvang van die projek gepoog om boere te oorreed om wolskape te selekteer wat witter wol produseer.
“Hoewel dit steeds ’n moontlikheid is, sal dit baie lank duur. Die proses wat ons ontwikkel en geskoei is op chemikalieë wat ultravioletstrale absorbeer (UV-Fast W), sal verseker dat die gare waaruit witter en helderder wolkledingstukke vervaardig word, baie gouer aan die publiek beskikbaar gestel sal kan word.”
Hy sê hoewel daar voorheen gepoog is om wol met bleikmiddels witter te maak, vergeling ingetree het sodra dit weer met kleurstof behandel is.
Bron: The Land