
Die Suid-Afrikaanse wolmark het tydens die 18de veiling van die seisoen verstewig en die beste prys van die seisoen, R180,73/kg, is aangeteken.
“Die Suid-Afrikaanse wolmark het vandeesweek heelwat versterk en beter presteer as die Australiese mark, ten spyte van die rand se versterking teen die vernaamste geldeenhede,” lui OVK se veilingsverslag.
Luidens Cape Wools se markverslag het die mark met 4,86% gestyg teenoor die vorige veiling, hoewel die rand met 0,8% teenoor die Amerikaanse dollar versterk het. Dit beteken in dollarwaarde het die mark met 5,8% versterk. Die Australiese EMI het met slegs 0,3% toegeneem.
Die huidige markprys is op die hoogste vlak tot dusver vir die 2021-’22-seisoen. Dit is bykans 20% hoër as die markprys vir die ooreenstemmende veiling ’n jaar gelede.
“Die aanbod het uit goeie gehalte, lang, fyn Merino-wol bestaan. Die aanbieding van gesertifiseerde wol het aansienlik toegeneem teenoor die vorige week en het 39,4% van die Merino-wolaanbod uitgemaak het,” sê Cape Wools.
Luidens die verslag was daar goeie mededinging op die mark, veral vir RWS-gesertifiseerde wol, wat die styging in die mark verder ondersteun het.
Die hoogste prys vir die seisoen is betaal vir baal BFFY, wol van 15,3 mikron met ’n skoonopbrengs van 75% en ’n treksterkte van 43, van mnr. D.J. Louw van Trompsburg teen R284/kg (vetwol). Dié baal fynwol was RWS-gesertifiseer en die makelaar was BKB.
Altesaam 13 961 bale wol is tydens die veiling aangebied, met 3 623 bale wat voor die aanvang van die veiling onttrek is. Die algehele verkoopspersentasie was 97,96.
Die grootste styging binne die verskillende mikronkategorieë vir goeie, lang kamtipes is gesien in die 21 mikron-segment met ’n styging van 5,3%, gevolg deur die 20 mikron-segment met ’n styging van 4,9%. Die grootste verskil van 20,26% tussen RWS-gesertifiseerde en ongesertifiseerde wol is gesien in die 21,5 mikron-segment.
Die volgende veiling sal op 26 Januarie aangebied word.