Die wolbedryf moes verlede jaar verskeie struikelblokke trotseer – en met die einde nie noodwendig in sig nie, kan dit vanjaar verdere druk op die markte plaas.
Volgens mnr. Leon de Beer, hoofbestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), het die wolbedryf die afgelope jaar moontlik een van die moeilikste tye in sy geskiedenis van bykans twee en ’n half eeu beleef.
“Onbeheerde uitbrekings van bek-en-klouseer en die gevolglike wolverbod, die nadraai van die covid-19-pandemie wat die wolmark met meer as 30% laat daal het, die logistieke probleme by hawens weens die Transnet-staking en die oorlog in Oekraïne het die wolbedryf voor baie groot struikelblokke te staan gebring.” Volgens hom is die ligpunt dat wol ’n natuurlike vesel is wat volhoubaar geproduseer word.